die "wonderwerk" beskuitpanne lyk so........ 

Ek gee later nog lekker resepte vir hierdie wonderwerk panne.

 

die wonder beskuitpanne

wat kan lekkerder ruik as die kombuis se eie "olie kolonie"?

February 3, 2011

Daar is nou maar nie ’n lekkerder reuk as gebak in die oond nie.  Ma  vra nou die dag vir my om ’n  baksel beskuit vir haar te bak.  Gaan karavaan staan maak op Vic baai saam met vriende.  Nou die karringmelkbeskuit resep kom so met die jare saam. So ’n  verbastering van Ma en Skoonma se resepte, lag-lag so 3 geslagte vêr.

Die blik panne wat my broer destyds op die Vrystaatse vlaktes vir my gekoop het, maak  die taak so maklik as om te sê  “die kat kry kleintjies agter die koolstoof”  Die van julle wat dit nie ken nie, kan gerus soek vir ’n  stel.  ’n Stel bestaan uit 2 plat panne wat die oond vol lê. en dan ’n sny patroon, presies in 77 stukkies afgemerk, wat net voor die bak slag gebruik word om die deeg mooi netjies in winkel mooi stukkies te sny. Ek sien Margot Swiss hou dit deesdae aan.  Daar is verskillende groottes om in verskillende oonde te pas. Maar elke sent in goud werd.

Een trapsel (Ouma Kowa het “een aanmaak slag” so gedoop) pas presies, kant en wal, die pan vol.  ’n Mens moet net nie vergeet om die sny raam te verwyder voor jy die spul in die oond druk nie. As jy wil weet watse gemors dit afgee, kan jy my eks skoonma vra.  Sy het daarna met ’n emmer krummels gesit as prys vir haar: “Ek weet wat ek doen!”

Maar terug by die geur!  Mense al is die beskuit so geheel en al in ’n  ander kombuis uitgedroog, was die geur uit die oond bevrediging genoeg vir hierdie boere sjef.

Hier is die heerlike beskuit se maklike resep:   

Maak 77 stukke

1 kg                        Bruismeel                           
2 k                          Klapper (Opsioneel)
3 k                          Meel                                    
500 g                      Botter
3 t                           Bakpoeier                          
500 mℓ                 Karringmelk  (500 mℓ melk en 2 e asyn)
1 t                           Sout                                      
2 k                          Suiker
3                              Eiers.                                    
Jy kan nog bodder met Vanielje, as jy wil, maar volgens my is dit  heeltemal  oorbodig.

 

·         Smelt die botter tot net loperig.

·         Klits die suiker en eiers hierby in.

·         Voeg die karringmelk hierby en  meng goed.

·         Meng die droë bestanddele in ’n skottel en meng die melkmengsel hierby. 

·         Meng goed en druk in panne.  As jy nie die fênsie panne het nie, kan dit in broodpanne ook gebak word. 

·         Bak teen 180° vir 25 tot 30 minute.

·         Haal uit die oond en laat tenminste 10 minute afkoel voordat dit uit die panne gegooi word.

·         Laat die beskuit heeltemal afkoel voordat dit gesny en dan gedroog word.

 

Makliker en lekkerder kry jy nie!

 

Dit bring my by een van die snaaksste verskynsels off vraagstukke van ons beroep.  Ek leer letterlik  tientalle studente,  sommige hooggeleerdes, die kuns van kos maak.  Almal baie in hul noppies met die nuut ontdekte vlyt, maar ’n ma en ’n skoonma sal altyd, beter en selfs beste weet. Al word daardie twee vrouens in jou lewe, niks wysgemaak nie, kan hulle jou blitsvinnig bê opdrag om hulle brouwerk te red of om die lekkernye wat hulle namens jou beloof het, op te tower.    Dan is die ekspedisie nog met ‘’n alomteenwoordige vadoekie oral  waar jy werk en ’n baie moederlike; “Is jy klaar met hierdie?” En wanneer jy omdraai is die spatel  waarmee jy nou net gewoel het, kurkdroog aan die haak.

Nou ja, Ma se beskuit het haar vriendin toe uitgedroog, want sien, ons oond se termostaat is so betroubaar soos ’n  plattelandse raadslid.  Sal wel hoor as dit nie lekker was nie.  Indien nie, sal die leë blik die kwaliteitsmeter wees, wanneer hulle terugkom. 

As jy nou ’n  gesonder weergawe van die beskuit wil bak, deel ek ’n vriendin van Kleinbrak se resep met jou.   Dis juis hierdie beskuit, wat sy my as geskenk gegee het wat my so hewig aan pan koop en beskuit bak gesit het.   Ek het selfs in die begin Rhona se panne geleen, tot ek my hande op my eie stel kon lê.

Hou die resep soos hierbo, vervang die 3k meel met 300g all bran flakes (die pak met die bessies, maak dit ekstra lekke) laat die bakpoeier weg en gooi  sommer vir die lekker ’n  koppie gekapte neute of sade by. 

So 2 stukkies van hierdie beskuit elke oggend saam met die troos en jy hoef nie eers elke veertien dae die bloubottel nader te trek nie!.

Geniet van huis tot huis

A

 

 

kom ons breek die ys

January 21, 2011

 

Dis seker nou al drie jaar wat ek dreig om te begin blog.  En dis nou maar hoe ’n mens is. Ek wou eers die perfekte volledige webblad ontwerp om ’n een stop platform daar te stel waar al my inligting, foto’s en resepte, binne bereik van die lesers van my blog is.

Ek het al die jare wat ek Vaaljapie besit het, ’n  elektroniese nuusbrief aan meer as 400 agies gestuur en die gorrel baie geniet.  Dit het ongelooflik baie positiewe reaksie gekry.  Ek dink ek het in die amper 8 jaar ne...


Continue reading...
 

wie's ek


Ek is maar ‘n gewone outjie, niks besonders nie. Nie ‘n flambojante Francois Ferreira nie en ook nie ‘n morsige Jamie Oliver nie. Net sodat niemand hoef te wonder nie. Hou vas, hier gaan ons…. Ek is die oudste van 2 kinders, het ‘n jonger broer, Egmond, wat baie voorbeeldig en konserwatief is. Ek is maar die “odd one out” in die familie. Die swart (liewer pienk) skaap in die familie Ek het meeste van my lewe in Bloemfontein gebly, met die droom om eendag by die see ‘n piep klein restaurantjie te besit. Ek het as jong Afrikaanse seun, na matriek (outydse, egte matriek), my diensplig gedoen, al my kampe gedoen en selfs op die grens oorlog gemaak. Na tien jaar in die Burgermag as kaptein uit die ou S.A.W. gestap. Daarna het ek vas geglo aan eg afrikaner sekuriteit (‘n werk in die staatsdiens) en deur die Vrystaatse Natuurbewaring my as Tuinboukundige in Pretoria gekwalifiseer. Ek was voorheen getroud en het 3 kinders. Op 15 Desember 1984 het ek met my beste vriendin Rosmarie Emmi Kuhn getrou. Die oudste dogter, Lobke (gebore 1986), haar sussie Anke, (gebore 1988), en hulle boetie, Sören, (gebore 1990) . Hulle stief boetie, Thomas is nou 14. Hulle bly op hulle Duitse Pappa, Herman Königkramer se plantasies in Noord Natal. Lobke is Desember 2010 getroud Terwyl ek Roos feeste, Sportgronde, Stadstuine ensovoorts by die Bloemfonteinse Stadsraad bestuur het, het ek as stokperdjie, ‘n drie jaar Franse kookkursus by ‘n sjef, genaamd Sus, gedoen en in 1993 as sjef gekwalifiseer. Sus was die uitvoerende sjef van die sogenaamde draai restaurant in Bloemfontein. In 2001 het ek my droom in die Suid-Kaap kom soek, al my geld, vreeslik baie bloed en trane betaal vir die mooiste klein sink plekkie op aarde! Ek en Frikkie Swanepoel, my metgesel op daardie tyd, en ek het Vaaljapie tot ’n erfenisbaken uitgebou. Ons het ons passie hier op die platform uitgeleef. Vir 10 jaar lank was ek mede eienaar van Vaaljapie Stasie restaurant in Klein Brakrivier. Op 26 Januarie 2006 is ek en Frikkie getroud. Dis hier waar Ouma Kowa Kookskool haar eerste klas gedurende Mei 2008 aangebied het. Ek het in eer van my ouma Kowa hierdie kookskool ge-open en het 3 permanente klasse aangebied. Intussen is Ouma Kowa verskuif na George op 1 Junie 2009. Op 26 Mei 2009, loop Frikkie en my se lewens uitmekaar in die skeihof en ek sit my lewe net met Ouma Kowa in George voort. Op 18 September 2010, ontmoet ek die ridder van my lewe, Henre Lane, wat tans my inspirasie en toekomsdrome is. Ek is passievol oor die lewe, ons groen erfenis en die ongelooflike hope kennis wat ek nog wil ontdek. Ek haat skynheiligheid en negatiwiteit. Ek is baie privaat en glo my godsdiens is my eie saak. As jy my regtig leer ken, is ek nie so ‘n “bad” outjie nie. So as jy kans sien vir my, kom ontdek die wonder wêreld van kos, denke, en positiwiteit saam met my!

Blogroll

This free website was made using Yola.

No HTML skills required. Build your website in minutes.

Go to www.yola.com and sign up today!

Make a free website with Yola